Leraars en kerkrade van Sola Netwerk-gemeentes onderskryf onderstaande waardes en verwerp wat daarmee in stryd is:
Leraars en kerkraadslede moet 'n duidelike getuienis van verlossing in Jesus Christus hê en onbeskaamd daarvan getuig.
Die Bybel word as die onfeilbare Woord van God (God se onfeilbare openbaring) eerbiedig en nie as die produk van menslike nadenke oor God nie.
Die begrip van wie God is is nie van enige antieke heidense godsdienste oorgeneem nie. Daarmee saam: Abraham was 'n werklike persoon. Daar was geen Abrahamfiguur deur die volk Israel geskep nie.
Adam was 'n historiese persoon en nie 'n mitiese figuur nie.
Die hiernamaals is 'n werklike plek waar mense tasbare liggame sal besit.
Alle mense wat sterf gaan OF hemel toe OF hel toe.
Die hemel is 'n letterlike plek waar ewige vreugde beleef word en die hel 'n letterlike plek van ewige pyn en lyding.
Jesus Christus is die enigste eksklusiewe unieke weg tot saligheid. Alle mense buite Christus is verlore en op pad hel toe.
Aanhangers van nie-Christelike godsdienste en kultusse gaan vir ewig verlore wanneer hulle sterf.
Sending- en evangelisasie is dringend noodsaaklik. Alle leraars en kerkrade van Sola Netwerk-gemeentes is daadwerklik hierby betrokke. Dit is dringend noodsaaklik en onontbeerlik dat mense die Evangelie van saligheid in Christus moet hoor tot redding.
Evangelisasie en sending is nie maniere om Christene en nie-Christene sover te kry om na mekaar te luister en by mekaar te leer nie, maar is die middel waardeur die Evangelie aan nie-Christene gebring moet word sodat hulle gered kan word. Aanhangers van ander godsdienste is nie Christene se “broers” nie. Hulle is verlore buite om Christus.
Satan is 'n persoon wat werklik bestaan.
Daar is 'n letterlike hel. Die meeste mense sal nie uiteindelik in die hemel wees nie. Die universalisme (almal uiteindelik gered) is 'n verwerplike dwaalleer.
God is 'n persoonlike Wese wat werklik bestaan en 'n verloste in Christus staan in 'n persoonlike relasie tot Hom.
Jesus Christus is uit 'n maagd gebore.
Jesus Christus is waarlik God en waarlik mens in een Persoon verenig. Hy is die Seun van God soos die Skrif leer.
Jesus Christus het werklik liggaamlik en histories uit die dood opgestaan. Nie simbolies of metafories nie. Dieselfde geld van Sy hemelvaart.
Daar sal 'n letterlike fisiese wederkoms van Jesus wees.
Al die wonderwerke wat God verrig het – OT en NT – het letterlik presies net so gebeur soos die Skrif dit beskryf.
Die huwelik tussen een man en een vrou is 'n Goddelike instelling. Seksuele verhoudings buite die wettige huwelik tussen een man en een vrou is sondig en verkeerd.
Die saamwoon van mense buite die wettige huwelik tussen een man en een vrou is sondig en onaanvaarbaar. Die huwelikmag nie herdefinieër word sodat daar ruimte kan wees vir saamwonery buite die eg nie.
Genesis 1-11 is letterlik waar en moet as sodanig geglo word.
Die Skepping volgens Genesis 1-2 is letterlik waar presies soos dit geskryf staan. God het nie deur middel van evolusie geskep nie, maar Hy het alles in 6 dae geskep deur 'n woord te spreek. Dit was 6 letterlike dae en nie tydperke nie. Die evolusieteorie word verwerp en kan nie met die Skrif versoen word nie.
Genesis 1-11 is nie tydens die Babiloniese Ballingskap (of later) geskryf nie en die Sondvloed was 'n werklike gebeurtenis van globale omvang. Noag was 'n historiese persoon en nie 'n mitiese figuur nie.
Die Sondeval was 'n letterlike historiese gebeurtenis presies soos Genesis 3 dit beskryf.
Die gereformeerde belydenisskrifte word onderskryf OMDAT dit volkome met die Skrif ooreenstem en nie in soverre as wat dit met die Skrif ooreenstem nie.
Die kerk is nie 'n “ruim huis” waar ruimte geskep word vir liberale en vrysinnige denke en praktyke, progressiewe Christendom, relatiwisme, inklusiwiteit, sosiale geregtigheidsideologie en kulturele Marxisme om alles onder dieselfde dak geakkommodeer te word in die naam van “eenheid” nie.
Die Skrif is die absolute tydlose en ewige onfeilbare waarheid van God en nie ‘n geskrif wat dinamies en lewend gemaak moet word deur ons geleerde hervertolking en herinterpretasie. Die kerk mag nie nou anders leer as wat in die Skrif staan, omdat ons nou beter weet, verder sien en dinge anders ervaar nie.
Die Woord verander nie soos wat ons kennis en omstandighede verander nie. Daarom dekodeer niemand die Skrif om vir ons unieke omstandighede relevant te wees nie.